Local Weather

BREDASDORP WEATHER

Friday, May 29, 2020

Die "Rally" kom Bredasdorp toe!



Woorde wat elke man (en sommige dames) se harte vinniger laat klop. Glo my... hiér op Bredasdorp en in die distrik, is tydrenne groot.

Jare gelede, was dit vir ons as kinders en later jong volwassenes, die lekkerste uitstappie gewees na die plase buite in die distrik waardeur die roetes van die tydrenmotors sou loop. Gewoonlik was dit laatmiddag en vroegaand wat jy nou maar die koue getrotseer het, want sien, die meeste van dié "rally's" het meestal gedurende die wintermaande in ons omgewing plaasgevind.

Vinnige karre en veral vinnige tydrenmotors, is een van die dinge wat enige avontuurlustige man se hart laat warm klop. Jy kan amper sê dat dit die seuntjie in elke man weer wakker maak. Nou met hiérdie storie is dit glad nie anders nie...

'n Hele paar jaar gelede, was dit die "Toyota Dealership Rally" (as ek reg kan onthou) wat soos oudergewoonte hiér in Bredasdorp se distrik 'n draai kom maak het.

Die roetes vir die tydren, was gewoonlik beperk tot die boere van die omgewing se plaaspaaie (waarvan sommiges in 'n goeie toestand was laas toe daar nog erge Hollands gepraat is in die Kaap). Nou so is ek, my broer en my pa uit na 'n paar van die roetes... baie vroeg natuurlik, want dit was nog lekker donker buite. My pa se groot vriend en bekende boer van die omgewing, Niel du Toit, het ons ingewag by Grashoek (net buite Bredasdorp... af van die Elimpad af). Daarvandaan sou ons met die bakkie verder ry, omdat sekere van die paaie nie geskik was vir my pa se goudkleurige Passat nie (meer oor dié Passat in 'n ander storie). Met al die seuns agterop (ek, my broer en Niel du Toit se vier seuns), is ons die duisternis in.

Vir die wat 'n "rally" ken, sal weet dat so 'n besigheid opgedeel is in tegniese sneltrajekte of "stages". Ek dink dit was 4 of 5 van hiérdie trajekte wat oor die grond van Niel du Toit geloop het. By die eerste van hiérdie trajekte aangekom, was dit amper die hele Bredasdorp en omgewing se manlike bevolking wat daar was (met so 'n paar avontuurlustige dames tussenin), net so om die balans te handhaaf en die manne in toom te hou... of was dit dalk andersom?

Die blaas van 'n fluitjie (iewers in die donkerte), het aangedui dat 'n tydrenmotor oppad was en kort voor lank, hoor ons die dreuning van 'n vinnige gevaarte op 'n grondpad oppad na ons toe. Deur die duisternis en vroegoggendmis, is dit die dowwe strale van "spotlights" wat die posisie van die motor t.o.v. ons verraai. Met 'n vreeslike lawaai en die gepaardgaande chaos, vlieg die motor verby... half deur die lug oor hobbels en growwe plekke in die pad. Dit was dan meestal hoe dit gegaan het met die vroegoggendskofte... die laataandskofte of-trajekte, was egter 'n heel ander storie.

Hoe later in die aand dit geraak het, hoe kouer het dit geword en natuurlik moet jy jouself warm hou. Nou die meeste maak 'n vuur, maar daar is mos altyd so een of twee manne wat dink dat 'n vuur jou nie warm genoeg maak nie... jy het eerder 'n soetetjie nodig... die vloeibare '18 jaar-en-ouer-tipe' soetetjie.

Met dié soetetjie agter die blad, raak van die manne mos braaf ook... nie net warm nie. Kort voor lank was dit dan toe ook van dié manne wat besluit dat die spesifieke trajek waar hulle staan en kyk, nie regtig opwindend genoeg was nie... so wat doen hulle toe? Wel, jy ontkoppel so paar waterpype, skuif 'n klip of twee en plaas 'n bos waar daar nie voorheen een was nie. Met die roete of trajek aangepas, is dit tyd vir die eerste renmotors van die nagskof om verby te kom. Glo my as ek sê... die opwindenheidsfaktor is aansienlik gelig. Soos die motors vroeër verbygekom het, het die spesiale tydrenbande, diep vore in die grondpaai uitgekerf. Nou met die waterpype wat so bietjie losgemaak is, het dié vore natuurlik in poele verander en met die nuwe posisie van 'n bos of twee, asook nuutgeplaasde klippe, was die roete aansienlik anders.

Nou om 'n lang storie kort te maak... ons kon nie ophou kyk nie. Die manne het hulle hande vol gehad om beheer oor hulle karre te behou. Daar was 'n 'geremtrappery' en 'n 'ge-uitswaaiery' so reg uit die draaiboek van 'n "Fast & Furious" film. Een of twee karre moes gehelp word om weer op die grondpad te kom, maar gelukkig het al die karre veilig daar verbygekom (al was dit met aansienlik meer konsentrasie en moeite). Die ander manne (dié verantwoordelik vir die veranderde gedeelte van die sneltrajek) het deur die loop van die aand iewers heen verdwyn, seker maar om te gaan rus... genoeg hitte en opwinding vir een aand!

Terug by die huis en met die hoenderhane wat begin regmaak om almal weer wakker te maak, is dit ons as seuns (en ook die 'groter' seuns) wat gelukkig gaan slaap met herinneringe van 'n lekker, adrenaliengevulde aand... koud, maar lekker. Vir die ander manne... wel, hulle het ook seker maar iewers aan die slaap geraak.






Thursday, May 14, 2020

Pietertjie die "pilot" - Deel 2


Marius Cornelissen was een van die kalmste en rustigste mense wat ek ooit die voorreg gehad het om te ontmoet, leer ken en vir baie jare my vriend kon noem. Hy was nie net die bogenoemde nie, maar ook een van die beste vlieëniers wat ek al mee saam gevlieg het.

Nou hiér gaan ek dan aan met die storie van Pietertjie die "pilot" en sy eerste, sowel as laaste vlug in 'n ligte vliegtuig. Eintlik moet ek myself korrigeer hiér... Pietertjie se eerste en laaste vlug in énige vliegtuig.

By die onderpunt van die aanloopbaan aangekom, draai Marius die Cessna met die neus in die wind (wat die opstyg heelwat makliker maak). Die enjin word vir oulaas getoets, daar word seker gemaak almal is vas en die deure is altwee toe. Ons begin stadig vorentoe beweeg en toe al hoe vinniger. Ek hou die spoed dop. My oog vang die truspieëltjie en in die sitplek agter ons, was dit Pietertjie met oë so groot soos pierings. Daar was geen woord of beweging van sy kant af nie. Ek kyk hom so en wonder of dit 'n stilte van opgewondenheid of 'n stilte van vrees was.

Ek hou die lugspoedmeter dop... 10, 20, 30, 40... 75 myl per uur. Marius trek die stuurstang terug en sonder enige moeite, verlaat die Cessna se drie wiele die vastigheid én veiligheid van die grond. Ons klim stewig tot op so 500 voet bo grondvlak en die flappe (wat ons help opstyg) word teruggetrek in die vlerke in. Marius draai die vliegtuig regs uit en ons vat die rigting Waenhuiskrans toe. In die agterste sitplek, was dit Pietertjie wat nou doodstil was. Sy oë was egter nie stil nie. Ek wonder vandag nog of dit vrees of opgewondenheid was, maar ek persoonlik dink dit was hoofsaaklik vrees. Pietertjie was seker nog nooit hoër van die grond af as wat hyself lank was nie!

Waenhuiskrans was natuurlik pragtig soos altyd, met spierwit strande en die skerp rotse van die grot-gedeelte vêr onder ons. Met dié dat ons in daardie stadium geklim het tot op die wettige minimum hoogte van 1000 voet bo beboude area, het Pietertjie homself verkyk, want sy neus en mond se merke was op die venster van elke kant van die vliegtuig waarheen hy homself gewend het (die Cessna is mos nie baie groot nie). Met dié dat ons (na so drie wye sirkels oor Kassiesbaai) die rigting toe kuslangs vat Struisbaai se kant toe, is dit Pietertjie wat effens onrustig begin raak. Marius vra hom op die oorfone of hy dit geniet en of dinge vir hom mooi is daar van bo af... en dis toe dat die onrustigheid so stadigaan begin oorkook. Ons daal weer tot op 500 voet en met die vlieg oor De Mond, is daar nog heelwat om te sien... alhoewel relatief eentonig, omdat ons maar so al met die kuslyn afpiekel op 'n laer hoogte. Marius besluit toe om so bietjie hoër te klim nadat ons verby De Mond is, want om van hoog af in die rigting te kyk van Struisbaai (op so 'n pragtige dag), is 'n absolute ervaring... een wat ons graag vir Pietertjie wou laat ervaar. Op hiérdie stadium van die vlug, was dit Pietertjie se woorde wat gevloei het soos water.

Nog so entjie verder, is dit toe Pietertjie se aandag wat verskuif van buite die vliegtuig tot binne die vliegtuig en meer spesifiek die instrumente en dit wat Marius vashou... die stuurstang. Dis op hiérdie stadium wat die stemmetjie op my skouer so half en half in "panic mode" ingegaan het. Met Andrew's Field se landingstrook in sig, was dit Marius wat noem dat hy daar gaan land om so bietjie te kuier by Andrew Burger (eienaar van Andrew's Field op daardie stadium en self ook 'n bedrewe vlieënier). Dit was eintlik 'n doodgewone stop vir ons op baie van die Saterdae wat ek saamgevlieg het (hiéronder is 'n kaart met al die inligting van ons vlug).



Dis net toe ons begin daal, wat dit Pietertjie se potjie wat toe uiteindelik heeltemal oorkook. Hy buk vooroor en leun tussen my en Marius in om te sien wat sou gebeur as hy die stuurstang sou druk. Hy druk toe bo-op Marius se hand met net genoeg krag om die vliegtuig skielik na regs te laat kantel. Beide ek en Marius skrik onsself uit ons bloedgroepe uit. Marius maak skielik die korreksie en ek druk toe maar vir Pietertjie terug na sy sitplek toe, met die kleurvolste paar woorde wat ek in 'n lang tyd gebruik het. Dit was eintlik maar net skok wat gepraat het.

Ons daal toe maar redelik vinnig en oppad ondertoe, noem ons dan ook ons intensies om te land by Andrew's Field op die algemene radiofrekwensie.

So koel soos 'n komkommer, land ons op Andrew's Field om so bietjie asem te skep en om vir Pietertjie kans te gee om te kalmeer. So 'n uur later (en met 'n hele paar sterk koffies agter die blad), het ons weer vir Pietertjie agter in die vliegtuig vasgemaak (hiérdie keer héélwat stewiger). Ons styg op en vat die rigting verder na Struisbaai en Kaap Agulhas. Ons het vir Pietertjie belowe ons sou verder vir hom die kuslyn gaan wys en ons het ons belofte gestand gedoen. Ons het twee pragtige wye draai oor die Kaap Agulhas vuurtoring gemaak op 'n 1000 voet (so om en by 300 meter), een draai bo-oor die wrak by Suiderstrand en toe die rigting huistoe gevat.

Na 'n opwindende (Marius se woorde) Saterdagoggend saam met Pietertjie die "pilot", land ons weer op die grondaanloopbaan net buite Bredasdorp. Pietertjie het ons gehelp om die vliegtuig in die loods terug te stoot en die hele pad terug dorp toe in die motor, om verskoning gevra (ek het hom eintlik jammer gekry). Terug op die dorp, het ons vir Pietertjie afgelaai naby sy ma se huis, want hy moes eers kafee toe loop om sigarette te gaan koop (seker maar vir die bewerigheid).

Pietertjie het mooi dankie gesê ook. Hy het nooit weer gevlieg nie.






Wednesday, May 6, 2020

Pietertjie die "pilot" - Deel 1


Die storie van Pietertjie die "pilot" is een van daai stories wat nog nooit oorvertel is buite die binnekring van almal wat al in ZS-RAP gevlieg het nie. Ek is nou bevoorreg genoeg om eersterangse kennis met julle te deel, want ek was in die regterstoel op daardie dag (die regterstoel is die stoel langs dié van die vlieënier, wat links sit in 'n vastevlerkvliegtuig).

Nou kom ek vat julle so bietjie terug en gee so bietjie agtergrond. Ek was in Standerd 9 toe ek vir Marius Cornelissen ontmoet het. Hy was van Bredasdorp en 'n ingenieur by die destydse OTB (Overberg Toetsbaan). Dit was 1990. Op 'n Woensdagmiddag, so net na 15h00, lui die telefoon in ons huis. Op daardie stadium nog Rothmanstraat. Ek antwoord vriendelik en 'n nog vriendeliker stem sê: "Hallo... is dit Jacques? My naam is Marius Cornelissen en ek hoor jy hou van vlieg." Nou, die res is geskiedenis en vir baie jare het ek menigde kere saam met Marius gevlieg in ZS-RAP (dis die vliegtuig in die foto). Dit was 'n Cessna 177 Cardinal B... pragtig en uniek, met blou en geel strepe oor die wit romp (daar was genoeg geel om 'n hoender skaam te maak).

Dit dan die agtergrond rondom Marius en die Cessna. Nou vir die agtergrond rondom Pietertjie die "pilot". Pietertjie was 'n goeie siel en hy was slim op sy unieke manier. Pietertjie en Bredasdorp was sinoniem en vir baie jare het Pietertjie die strate bewandel met sy bruin pantoffels, effens weggesteek onder die groen nylonsweetpak met die twee wit strepe. Sit daarby die groenblou trui en wilde bos hare en jy het vir Pieterjie... nie 'n gesig wat jy sommer kan miskyk nie. Pietertjie was vriendelik en behulpsaam, maar wat vir my persoonlik 'n openbaring was, was sy kennis van vlieg en vliegtuie. Elke keer as ek hom iewers in die dorp raakgeloop het, het ons gesels oor vliegtuie. Op 'n stadium het hy vir my 'n notaboekie gewys wat my asem weggeslaan het. Hy wat Pietertjie was, het deeglike notas gemaak van spesifiek die spuitvliegtuie. Opstygtye, registrasienommers, kenmerkende kleure, rigtings en vlugtye.

Ek het vir lank en baie dae met Pietertjie gesels oor die inligting wat hy in die notaboekie geskryf gehad het. Pietertjie het dit aan my genoem dat hy by sy ma se huis met 'n verkyker die spuitvliegtuie dopgehou het, omdat die vliegveld nie vêr uit die dorp was nie en hy maklik kon sien watter aktiwiteite wanneer plaasgevind het (sy ma se huis was hoër op teen 'n helling).

Marius het ook vir Pietertjie geken en saamgesels oor vlieg. Nou daar was net ding wat Pietertjie die "pilot" nog nooit gedoen het nie... hy was nog nooit weg van die grond af in 'n vliegtuig nie. Dis nou waar ons storie van Pietertjie se eerste (en laaste) vlug eintlik begin.

Dit was in my matriekjaar (1991)... skuins voor die Junievakansie ('n Saterdagoggend as ek reg onthou). Marius het my genooi vir 'n oggendvlug van Bredasdorp na Struisbaai en terug, via Waenhuiskrans. Dit was 'n pragtige wintersoggend met geen wolke nie... perfekte weer vir vlieg. Ek was voor Marius by die loods gewees. Toe Marius arriveer sien ek dat ons 'n passasier het vir die plesiervlug... ja... Pietertjie! Terwyl ons besig was met die voorvluginspeksie, het ek kort-kort gewonder of dit so 'n goeie idee was om Pietertjie op te vat blou lug toe.

Vir Pietertjie was die selfs die voorvluginspeksie soos iets uit sy notaboekie... die vliegtuig, die kleure, die registrasienommer, vlerke, vlappe, wiele, die lugskroef (ook genoem die propeller) en natuurlik al die knoppies op die instrumentepaneel. Dit was my werk om brandstof te pomp vir die vlug en om daarna vir Pietertjie te probeer weghou van die binnekant van die Cessna... en ja... dit was 'n moeilike taak, want met elke minuut wat ons nader beweeg het aan die vlug, was dit Pietertjie se opgewondenheid wat begin oorkook het.

Seker so 10 minute later was Pietertjie veilig agter in die vliegtuig vasgemaak en beide ek en Marius het onsself ook vasgegespe. Die oorfone is uitgedeel en daar is mooi aan Pieterjie verduidelik hoe alles werk en natuurlik ook die veiligheidsmaatreëls (nie dat Pietertjie enigsins daaraan aandag gegee het of ons selfs gehoor het nie). Nadat Marius die vliegtuig aangeskakel het, is daar toestemming gevra vir die opstygslag op die algemene kanaal, omdat die beheertoring by die lugmagbasis nie op daardie spesifieke Saterdagoggend beman was nie. Die nodige enjintoetse is gedoen en elke keer wat Marius die vliegtuig se enjinspoed getoets het, was dit Pietertjie se oë wat groter en kleiner geraak het. Hulle sê mos dat jou oë die vensters van jou siel is en in Pietertjie se siel (op daardie stadium) was 'n vulkaan van opgewondenheid wat plek gesoek het om oor te loop.

Ons begin beweeg en stuur die vliegtuig uit na die onderpunt van een van die twee grondaanloopbane waarvandaan ons sou opstyg. Soos gewoonlik was ek baie opgewonde, want vlieg was vir my 'n liefde wat diep in my binneste gewortel was. In die sitplek agter ons, was dit egter 'n totaal ander storie... Pietertjie die "pilot" se potjie van opgewondenheid was stadig maar seker besig om vinniger te kook. Oorkook was nie vêr nie.

Tuesday, May 5, 2020

"So it begins..."


"So it begins..."

Dié woorde het ek al telkemale gehoor in flieks waar die hoofkarakters òf in die moeilikheid is en wil uitkom, òf oppad is om iets te doen wat hulle dalk in die moeilikheid kan kry. Nou ek hoop nie my skryfloopbaan is geskoei op laasgenoemde nie!

So rukkie terug het ek my begewe op 'n terrein wat ek nooit gedink het ek sou kon doen nie en dit was die uitgee van 'n aanlyn gemeenskapskoerant. Ek het maar vasgebyt, my oë toegeknyp (in meer opsigte as een) en toe begin ek met die woorde "So it begins..." in my gedagtes. Dis amper soos daai stemmetjie wat altyd hiér uit die rigting van jou skouer vir jou fluister.

So met die uitlê en samestelling van die uitgawes van OVERdeBERG (die naam wat eendag by my opgekom het... afgelei van die naam van die area wat ek huis noem), kruis my pad met skrywers en bloggers soos Madelé Burger (Toortsie), sowel as Anne-Marie Groenewald (Seegogga). Altwee mense wie se skryfwerk ek gereeld in OVERdeBERG publiseer. Altwee dan ook inwoners van die Overberg...en spesifiek... Bredasdorp. Met die lees van hulle blogs, is ek toe gemotiveerd om dieselfde te probeer doen. 'n Ander inspirerende persoon, wat lank terug al oor my pad gekom het, is nog 'n uiters talentvolle vrou van Bredasdorp... Letty-Ann Möller. Nou vir Letty-Ann ken ek al jare lank en meer spesifiek rondom Radio Overberg fm in Bredasdorp (waar ek vir meer as 5 jaar 'n omroeper was met my ontbytprogram "Kraakvars" van 08h00-10h00 elke weeksoggend). Ek is nou nog betrokke by die radiostasie, maar nie as omroeper nie. Deesdae hanteer ek die stasie se sosiale media en grafiese ontwerp van programlogo's en ander dokumentasie.

Letty-Ann is self 'n baie kreatiewe persoon, wat 'n ware slag met woorde het en ek het haar al 'n paar keer gepols met die idee om 'n boek te skryf, want ek persoonlik dink dit sal 'n topverkoper wees. Nou hiérdie 3 vroue, met hulle skryftalente, het my nou gemotiveer om die skryfbesigheid 'n goeie poging te gee. Ek hoop net dat ek die pyp sal kan rook en dat my skrywery iewers vir iemand iets sal beteken (dalk selfs motiveer om te begin skryf). Glo my... met hiérdie inperking wat ons beleef, is daar baie tyd daarvoor. Soos wat ek besig is om te tik, moet ek sê dat dit nogal terapeuties is om 'n mens se gedagtes in skrif te verewig.

Nou... my eerste skryfstuk is miskien nie so lank nie, maar ek is gemotiveerd om voort te gaan en dalk eendag daardie boek te skryf of publiseer... iets wat ek nog altyd wou doen. Dankie aan dié 3 vroue vir julle onwetende inspirasie.

Jacques